About

VARS VAN DIE PLAAS AF

Met ’n bakkery wat al byna uit sy nate bars soos dit groei, gee Almero Bake op die plaas Fortuinspruit, Tweespruit, nuwe betekenis aan vars van die plaas af. Daarby kry die bakkery elke dag sy vars meel van OVK se Tweespruitmeule. Van brood om in ’n behoefte in die omliggende dorpe te voor sien, het Almero Bake binne twee jaar uitgebrei sodat dit nou ’n groot verskeidenheid gebak lewer – van verskillende tipes brood en broodrolletjies tot pasteie en fyngebak.

Die mense agter hierdie bakkery is Ben Nothnagel en sy vrou Liezel, wat op 10 Maart 2008 hul toerusting gekry en hul eerste baksel brood gebak het ná heelwat proefnemings wat misluk het en die besef dat broodbak nie regtig so maklik is as wat dit lyk nie. Die idee om hul eie brood te bak, het ontstaan toe Ben by geleentheid brood in die dorp wou koop en niks kon kry nie. Nadat hy en ’n vriend, Piet Scott, in Zimbabwe gesien het dat daar in die winkels dikwels net brood te koop is en dat die mense brood nodig het om van te leef, het hy finaal besluit ’n eie bakkery is die pad om te loop. Op dié manier kon hy die mense van sy eie omgewing help om kos bekostigbaar te kry. Die sukses van die onderneming word ook teruggeploeg in die gemeenskap.

Aanvanklik is tien kinders by plaaslike skole kosgegee, maar dit het uitgebrei tot meer as 100 tans. Terselfdertyd bied die bakkery werk aan plaaslike mense. Soos wat dit gegroei het, het die personeel, wat almal van Tweespruit self is, van 5 tot 10 toegeneem – twee spanne plus werkers wat net brood sny. Van die mense het Ben self opgelei, maar sommige het van ander bakkerye af by Almero Bake kom werk.’n Skuur op die plaas is vir dié doel ingerig. Aanvanklik is een vertrek vir die hele proses gebruik, maar dit het gou te klein geword. Die eerste gas-oond kon 30 brode per baksel bak, maar met die uitbreiding van die bakkery is nog oonde gekoop wat nou gesamentlik 280 brode per baksel kan hanteer. Tans word 2000 brode en 1 500 broodrolletjies per dag gebak, maar Ben se uiteindelike doelwit is 5 000 brode per dag.

Aan die begin het dit moeilik gegaan en baie moes van ’n nuwe bedryf geleer word. Broodbak is nie bloot deeg in ’n pan en klaar nie, daar is heelwat fynere kunsies daaraan. Daarmee het Frik Nel, OVK se bestuurder van die Tweespruit-meule, Basil Deniacos van South Bakels, Bloemfontein en Godfrey Struwig, ’n vriend, baie gehelp. Basil het Ben alles geleer wat hy nou van die bedryf weet.

Almero Bake doen alle bemarking en verspreiding van hul produkte self. Alles werk op bestellings sonder ’n eie toonbank waar verkoop word. Die gebak word met drie afleweringsvoertuie na Tweespruit, Excelsior, Thaba Nchu, Hobhouse, Clocolan, Wepener en Ladybrand versprei. Botshabelo is ’n nuwe mark wat sedert Januarie ontgin word. Ben besoek self die winkels in die stad en brei uit deur elke week twee winkels meer op sy verspreidingslys te kry. Dit is alles binne ’n radius van sowat 80 km van Tweespruit af. Brood word ook by plaaslike skole met koshuise afgelewer.

Buiten die bakkery word steeds op Fortuinspruit koring geplant indien nie word koring aangekoop en doen so waardetoevoeging tot hul produk.’n Ideaal is om hul eie koring aan die meule te lewer en dit gemaal terugkry om die brode te bak. Daarby word daar ook kaasprodukte met die naam Dairy Corporation versprei. Dit word hoofsaaklik in Bloemfontein versprei met ’n klein depot by die bakkery in Tweespruit. Hulle verkoop ook heuning, wat as ’n stokperdjie begin het maar wat elke dag meer en meer groei. Hulle reeks bestaan ook uit Tuisgemaakte Tamatieblatjang sowel as die verskaffing van Polony en Russians. Ben en Liezel glo daar is net een rede waarom Almero Bake, wat soos die Almero-boerdery na Louis Almero Gelderbloem, Liezel se pa, genoem is so groei. “Ons doen alles tot eer van die Here. Daarom is ons leuse: “Made with love, in faith.’”

Leave a reply

Fields marked with * are required